Meer oor Ons

Jan, Ronel en hulle 3 dogters het in 2007 verlief geraak op die asemrowende Bosveldplaas in die Waterberge.  Daar was 2 bestaande huise, maar vinnig is daar besluit om ‘n naweek-eenheid te skep in die 2de woning.

“Pumula” is ‘n Zoeloe woord wat beteken “Plek van Rus”, hulle het besluit dat dit ‘n gepaste naam vir hierdie plek was, aangesien hulle so baie rustigheid daar ervaar het.  Nadat die opknappingswerk voltooi is in 2009, is die eenheid wat vandag bekend staan as Jabulani gebore.  Jabulani beteken “Vreugde” in Zoeloe.

Hulle het vinnig besef dat gaste die rustigheid van die plaas geniet en daar is besluit om nog 2 eenslaapkamer eenhede te bou.   Thanda en Thulile is in 2011 gebore.  Thanda beteken “Liefde” en Thulile beteken “Vrede” in Zoeloe.  Gaste geniet die twee moderne eenhede en voel sommer deel van die omgewing wanneer hulle hier tuisgaan.

In Desember 2013 verander hulle die perdestal na die hoofwoning en bou ‘n ontvangs aan.  Die oorspronklike woning is verander na ‘n familie eenheid en in 2013 verwelkom hulle die eerste gaste na die Themba 8 bed familie eenheid.  Themba beteken “Hoop”.   Hierdie eenheid is baie luuks en gaste kan ontspan met baie spasie om hulle.  Kort hierna is die lodge se TGCSA gradering aangepas na 4 Ster.

Dit is hulle wens dat elke gas wat hier by Pumula Lodge oornag, die Hoop, Vrede, Liefde en Vreugde van die skepping sal geniet, want sonder hierdie vier kan daar mos nooit Rus in jou wees nie…